| |
Die kerk in Mosambiek (IRM) Tumbine Sinode, het 'n behoefte uitgespreek dat die Sinode,Ringe en gemeentes oopgelei word om behoorlike administratiewe stelsels te gebruik. Helderberg Uitreik van die NG Kerk Helderberg het ingestem om so 'n projek goed te keur en te ondersteun.
'n Kundige persoon is gevra om as sendeling van die projek, die nodige kursusse op te stel en te gaan aanbied. 'n Eenvoudige boekhoustelsel is opgestel en nadat dit in Portugees vertaal is is die nodige kursusse op twee verskillende plekke in Mosambiek aangebied. Die kursusse is nie net aan die IRM - kerke aangebied nie, maar daar was 'n goeie samewerking met 14 ander kerke en geloofsgenootskappe. Die kursusse moes by die heel basiese van boekhouding begin, bv dat kwitansies gegee moet word vir alle gelde ontvang en hoe om prakties 'n kwitansie uit te skryf, ens. Die opleiding word baie positief beleef en die resultate is sigbaar. Opvolg kursusse word nou beplan. 'n Verdere ontwikkeling is die versoek om, geskoei op die Bybelse beginsels van rentmeesterskap, riglyne aan die dominees en gemeentes te voorsien in verband met die gee van dankoffers. Die riglyne word nou geskryf en sodra dit gereed is, sal dit eers met die Sinode deurgewerk word sodat dit kan voldoen aan die vereistes wat hulle gestel het. Intussen word ook gewerk aan metodes hoe die gemeentes behoorlik verslag kan doen aan die Sinode.
|
|