Al kan ons vanjaar nie in die kerk bymekaar kom nie, gaan ons as gemeenskap van gelowiges Donderdag, 21 Mei 2020 Jesus se Hemelvaart m.b.v. tegnologie vier. Die opname van hierdie besonderse feesgeleentheid gaan op Helderberg Gemeente se YouTube kanaal en ook op die webblad beskikbaar wees.

God het ‘n Plan …. Meer as 2000 jaar gelede het God Sy plan uitgevoer om die mensdom te red van die ewige dood. Vanjaar tydens die grendeltyd het ons Paasfees op ‘n besonderse wyse gevier. Nou 40 dae na Paasfees, steeds gegrendel, vier ons Jesus se Hemelvaart en glo ons steeds dat God ‘n plan het.

Al verstaan ons nie altyd God se plan nie, hou ons vas aan Sy beloftes en glo ons dat dinge nie toevallig gebeur nie. Tydens vanjaar se Hemelvaartdiens kan ons steeds feesvier en glo dat God ook hierdie plan van Hom sal uitvoer soos Hy beloof in Johannes 14:1-3: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.