Burgert en Maritha le Roux was 45 jaar lank deel van Helderberg Gemeente en vertrek op 25 Junie na hulle nuwe tuiste in Mosselbaai. ‘n Mens kan jou amper nie die gemeente indink sonder hierdie twee besonderse lidmate nie. Toe ek in 1991 hier gekom het, was Burgert, Maritha en hulle drie dogters Esmé, Marié en Nina al klaar baie aktief in die gemeente – ‘n mens sien hulle gesin so sit in die kerkbanke.

Burgert skryf die volgende in sy groete e-pos: “Maritha en ek sal Helderberg Gemeente altyd onthou as die plek waar ons geloofslewe wonderlik gegroei het. Daar was oorvloedige geleenthede vir ons albei om betrokke te kon wees in die areas waar die Here ons met gawes en talente toevertrou het.” En ja, hulle was betrokke by “oorvloedige” dienswerk in ons gemeente. Ek was bevoorreg om in die beginjare saam met Maritha by die Kinder- en Jeugklub (Kinderkrans) te werk en alreeds vanaf die begin was sy vir my ‘n voorbeeld en mentor. Sy en Burgert was geestelike mentors vir talle persone.

Maritha was later betrokke by die kerkraad, Alternatiewe bediening en het haar bediening in Helderberg afgesluit by die Beradingsentrum. Burgert het vir 25 jaar die klank van die gemeente gedoen en was ook betrokke by die omgeebediening, Uitreikprojekleier (Annelize Wiid), kommunikasie en veral die laaste tyd by die gemeente se webwerf.>>

Burgert en Maritha is nederige mense wat nie hou van die kollig nie, maar in dankbaarheid teenoor die Here kan ons sê dat hulle “model lidmate” was. ‘n Paar jaar gelede het ons vir mekaar gevra: “Hoe wil ons hê moet ‘n lidmaat van Helderberg wees?” Die name van Burgert en Maritha het dadelik in die gesprek opgekom.

Mag hulle baie gelukkig wees in die volgende fase van hulle lewe. Mag hulle gelukkig wees naby hul kinders en kleinkinders, in hulle nuwe omgewing en nuwe gemeente. Mag die woorde van Ps 37:5 hulle begelei op hulle lewenspad: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Danie O’Kennedy

Hier is Burgert en Maritha met hul pragtige dogters. Links is Marié (nou De Lange), agter is Nina (nou Mulder) en regs is Esmé (nou Joubert)

 

Top