Dit is ‘n voorreg om weer in 2021 met jou te kan gesels. Ek hoop dat hierdie boodskap ons sal help om van rekenaar tot rekenaar of foon te kan voel soos die familie wat ons is. Ons gemeenskap beleef regtig druk tye as gevolg van Covid-19 en ook die regulasies daar rondom. Dit raak ons en ons families en vriende. Ons het almal gedroom oor ‘n nuwe begin in 2021, maar ons is steeds vasgevang in onsekerheid en bekommernis. Maar weet jy, dit is presies vir tye soos hierdie waarvoor geloof in God bedoel is, en wanneer ‘n gemeente tot sy reg kom. Ons word oorval deur stories van mense wat spontaan omgee en help waar hulle kan. Oor jare het Helderberg gemeente bekend geword as ‘n groot gemeente met net so ‘n groot en warm hart. Dit is wat ons nou beleef. Dankie vir elkeen wat omgee. Ons bid saam vir elkeen wat swaarkry en omgee nodig het.
Ek nooi jou hartlik uit na ons uitsaai-erediens Sondag. Ons gaan saam na die Lewende God draai en ek glo dat die Here ons in ons onsekerheid gaan raaksien en inspireer. Jy kan enige tyd van 08:00 af inskakel op Helderberg Gemeente se YouTube-kanaal. Die skakel na die diens sal ook Sondag op die Whatsapp-groep gestuur word.
Mooi loop
Danie Möller