Sondag 6 Maart staan ons stil by die bede “En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan” (Matt 6:12). Jesus weet dat ons as mense hiermee sukkel; daarom praat Hy direk ná die Ons Vader gebed weer oor hierdie belangrike saak (Matt 6:14-15).
In Psalm 51 lees ons hoe Dawid eerlik sy sonde voor die Here bely. Dit was nie maklik vir Dawid om dit te doen nie. Die profeet Natan moes eers met hom hieroor gesels. Dit is ook nie maklik vir elkeen van ons om te sê: “Ek is jammer, vergewe my skuld.” En nog moeiliker om ander te vergewe.
Vergifnis is die kern van die blye boodskap in die Bybel. As ons sukkel om te vergewe word ons aangemoedig om te dink aan wat Jesus gedoen het. Hy was bereid om vir ons sonde te sterf. Hy is bereid om ons te vergewe.
Sonde en onvergewensgesindheid vergiftig ons. Kies jy om jou sonde te bely en te vergewe? Sondebelydenis en vergifnis lei tot blydskap en vreugde.